Waar is dit?
Waar is die angsaanjaende kettings wat my siel vasgegespe het hier?
Die bloed waarmee ek bedek is?
Ek wens dit was myne.
Die bloed…bloed
HIERDIE BLOED!!!!
Die lang draaie en plat vervelige pad is uiteindelik agter ons, en twee ure buite Pretoria begin die wêreld waarlik mooi word. As dit nie vir die verdomde tolhekke en slegte sein was nie sou ek elke dag hier wou wees. Ja-nee…‘smartphone’ se fokken gat!
Die begin van die Drakensberge lê voor ons met kronkelende paaie wat op en af, sy tot sy deur die laeveld soos ‘n slang seil. Die asemrowende hange van die berge, die riviere en watervalle wat die wêreld deursny. Eeue se geheime word bedek deur bome soos ‘n groen sagte mat…
Dis hare, my geliefde s’n…
Háár bloed is oor my gesmeer, selfs oor my gesig.
Die koper smaak van haar lewens-stof brand my tong soos dit in my keel af forseer word.
Ek wil braak.
Ek hyg na asem maar meer en meer vloei my binne!
‘n Naweek weg na Nelspruit, ‘n rustige naweek van bietjie gemakliker lewe. Die kar was al gepak na werk en dadelik is ons weg, geen idee waar ons gaan slaap nie, geen planne… Net ons, die pad en die natuur. Die wêreld verken met ‘n padkaart, petrol en ‘n handjie vol geld. Bietjie lekker ‘Afrikana’ beleef – soos hulle dit deesdae noem.
Eerste stop op Waterfal Bowen vir sigarette, coke en ‘n lekker lag. “Damnit maar diè plek is ‘zef’”, lag ons so saam. “Almal is walglik vet! Sies!” Energie drankie t-shirts en sif sweetpak broeke.
Die dorpie self lyk of dit heeltemal vergete gelos was na die koms van ons nuwe Suid-Afrika. Geroeste karre verswelg in digte gras, winkels sonder ligte wat ‘n bose gevoel afgee, maar steeds is die kassiere darem heel vriendlik…
Verblind!
My arms onwillig om te beweeg, my hande onwillig om die rooi van my oë te vee.
As ek net kon sien, as ek net kon weet…
Klop-klop, klop-klop, klop-klop.
Daai ongoddelike klank!
Deur die tonnel en jy word afgelei na ‘n wêreld wat mens betower, die kranse hang oor jou soos lank vergete kregters wat die valei beskerm, en soms is die enigste teken van die mens se bestaan die treinstasies wat sporadies verskyn, en hier en daar ‘n bordjie wat jou vertel hoe mooi hierdie of daardie plaas is. Ongelukkig moes ons die motor se vensters toe hou, ‘n vieslike stank word gedra op die winde.
So ‘n magiese wêreld, versmeer met die gif van ‘n papier fabriek.
Ons draai eerder weg, ‘n padjie wat oplei in die berge in – die bome sal daai stank verweider.
Op en op teen die berg se mure klim ons, dieper en dieper tussen die digte bome. Vergeet die laeveld, kom ons gaan beskou die hemele!
Donker wolke hang laag voor ons soos wat ons styg. Reën gaan die wêreld nou nie makliker maak nie, maar haas het ons nie. Daar sal sekerlik naby ‘n herberg wees vir ons. ‘n Plekkie om die nat te vermy.
Klop-klop, klop-klop, klop-klop.
Die ongoddelike klank van die hoewe.
Die klank is orals so saam met die rooi.
Die onmenslikheid van daai hoewe wat hul dra, ‘n waarskuwing dat hul weer nader!!!
Die reën breek en verdwyn, breek en verdwyn, so saam die donker wat verby sweef en tussen die water is daar mis. Die paaie draai erg, kan geen kant maak van waar ons ry nie. Kar ligte raak skaars die kat ogies wat daar moet wees iewers in die duister. Elke nou en dan spring ‘n vergete padteken uit na jou. Waarskuwings van ‘n skerp draai, klip stortings en…wat? Wilde perde? Wilde perde! En die bordjie is nogal ge-sponser deur Coca-Cola! Eerste keer in omtrent ‘n uur wat ons lag.
Nader en nader…
Klop-klop, klop-klop, klop-klop.
Nader todat dit oorverdowend dreun.
Die gedreun, rooi en die koper smaak.
Ek is swak, magteloos – vrees skreeu deur my soos wat ysige hande oor my lyf begin gly, ysige hande wat my vleis toets…
Daar is niks in die donker, net die skynsel van die middlestreep twee meter voor die kar. En…perde? Klop-klop, klop-klop, klop-klop, fyn in die agtergrond. Nader en nader – klop-klop, klop-klop, klop-klop.
Reg voor ons!
Swaai, rubber kners, stuurwiel spin.
Verlore in tyd kom die slag nader en nader…
Dan…STILTE…
Klop-klop, klop-klop, klop-klop,
Meer, nader,
wat gaan aan?
Yskoue hande toets my vel, soos ‘n slagkalf terwyl hulle die snitte kies!
Die rooi en die koper smaak van haar bloed oorweldig my sinteie!
Die wêreld draai… Stilte soos my ore suis.
Klop-klop, klop-klop, klop-klop.
Ek sukkel los. Onbeseerd, ongelooflik! Haar asem is nog stewig maar sy lyk bewildered, geen woorde kom van haar lippe. Ek spartel met haar gordel – moes die fokken gespe al lankal vervang het!
Daar is ‘n lig in die verte, kan dit wees? ‘n Dorp so naby? Maar daar was dan niks!
Met angs los ek haar op soek na hulp, na die ligte, na die dorp, na die mense…
Mense?
Die mense, wag my in?
Hulle wag my al klaar in?
Klop-klop, klop-klop, klop-klop,
Pyn skreeu binne my terwyl vlymskerp dit in my ingly…
My vlees word verdeel. My vlees en háár bloed!
NEE!!!
Hulle staan, hoekom kom hul nie help nie?
Nader, al nader, hul gesigte in afwagting?
Hul bene!
Hul HOEWE!
Klop-klop, klop-klop, klop-klop,
Dis hul hoewe!
Dis HULLE!!!